icon-newsletter

‘n Tent vir ontmoeting 

 

Dit gebeur dikwels wanneer ek rustig raak om my Bybel te lees of tyd met God deur te bring, dat my telefoon of my deurklokkie onverwags lui. Ek wonder sommer hoe weet hulle dat ek juis dan wou rustig raak? Teen die tyd dat ek klaar gesels het is dit alweer tyd vir alles wat nog vandag moet gebeur, soos om kos te maak!

Soms is dit juis nodig om weg te kom van alles wat ons aandag kan aflei, om op God te kan fokus. In Eksodus 33 lees ons dat Moses ‘n tent weg van die kamp opgeslaan het en dit sy tent van ontmoeting genoem het. Ons lees in vers 7: “En Moses het elke keer ‘n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die Here wou raadpleeg het uitgegaan na die tent van samekoms…”.

Hierdie tent was eenkant, weg van die alledaagse lewe en besig wees. Dit was afgesonder as ‘n plek van ontmoeting met God. Elkeen van ons het so ‘n plek van ontmoeting nodig – ‘n plek waar ons sonder enige steurnisse tyd met God, in sy Woord en in gebed kan verkeer. Jou tent van ontmoeting kan ‘n spesiale stil hoekie,’n badkamer of selfs in jou kar wees. Die belangrikste is dat jy ‘n plek kry waar jy alleen met God kan ontmoet.

Waar gaan jy vir jouself so ‘n spesiale plek van ontmoeting skep?

 

Seëngroete van ROHSA