icon-newsletter

In jou eie hande

Hoe dikwels het dit al met jou gebeur dat jy op God wag vir ’n antwoord en dan ongeduldig raak en dan weer self probeer oplossings en antwoorde vind?

Wat sal die antwoord wees op die vraag – hoe lank moet ons wag? Abram en Sara het dieselfde vraag gevra. Ons lees in Genesis dat hulle vir 11 jaar gewag het vir God se belofte dat hulle gaan ouers word, maar toe ongeduldig geword het. Hulle het sake in hulle eie hande geneem en Abram het ’n kind by Sara se diensmeisie, Hagar, gehad. Dit was nie deel van God se plan nie, en het ‘n magdom probleme en pyn veroorsaak.

God se plan was dat hulle nog 13 jaar moes wag! Dit was duidelik God se krag wat in werking was toe hulle op ‘n rype ouderdom die ouers van Izak geword het.

Wat maak jy as dit voel of God nie jou gebede en versoeke beantwoord nie? Psalm 27:14 vertel ons wat die beste is: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees. Ja,wag op die Here.”

Jy kan rus in die wete dat God Sy krag sal wys op Sy eie bepaalde tyd.

Seëngroete van ROHSA