icon-newsletter

Uithouvermoë in die woestyn

 

Jou uithouvermoë word opgebou, bietjie vir bietjie en tree vir tree, deur vas te byt deur die uitdagings en moeilike tye. Net soos wanneer jy oefen vir ‘n maraton, in die begin dink jy dis ‘n onmoontlikheid, jy gaan dit nooit reg kry nie. Maar soos jy fikser en sterker word, groei jou selfvertroue in die hoop dat jy die afstand wel gaan kan baasraak.

Die lewe is vol maratons wat ons moet aflê. Soms is dit een van ons ouers se swak gesondheid wat mens emosioneel en fisies dreineer. Soms is dit ‘n finansiële krisis wat voel of dit net geen einde het nie.

Toe God die kinders van Israel uit die slawerny van Egipte gelei het, het Hy geweet dat hulle ‘n paar reuse gaan teëkom en vir lewe en dood gaan moet veg. Daarom het Hy hulle na die woestyn gelei om hulle eerstens uithouvermoë te leer. Wanneer ons nou hulle verhaal lees, kan ons sien dat hulle eintlik deur ‘n geestelike fiksheidsprogram is. 

Miskien doen Hy nou dieselfde in jou lewe. God lei jou dalk juis nou deur die beproewing, omdat Hy weet watter groter gevegte vir jou voorlê. Gaan jy Hom vertrou? Eendag gaan jy kan terug kyk en presies sien wat Hy vir jou in gedagte gehad het.

Psalm 55:23 “Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie.”

Seëngroete van ROHSA