icon-newsletter

Soos ‘n blaasbalk

 

‘n Blaasbalk is nogal ‘n goeie beskrywing vir Paulus se vermaning in 1 Korintiërs 13:4 “Die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie.” 

Wanneer ons werklik liefde wil bewys, het ons nie ‘n opgeblase opinie oor onsself nie. Sulke mense is nogal soos ‘n blaasbalk wat gebruik word om ‘n kaggelvuur aan te help.  Jy trek hom mos eers vol wind, en blaas dan die wind uit oor die vuur om die vlamme hoër en warmer te laat brand. Arrogansie is soos ‘n blaasbalk wat ons eie selfbeeld aanblaas.

Wanneer ons aan ons eie prestasies dink of die eer wat ons voel ons toekom, dan blaas ons die vuur van sonde maklik aan. Dis ‘n sonde in die vorm van verwaantheid en hoogmoed, boonop hou niemand van die geselskap van ‘n verwaande mens nie.

Die antwoord is om eerder met God se liefde gevul te wees. Wat dan na vore kom is ware omgee en belangstelling in die mense om ons. Vra gerus vir God om jou met daardie soort opregte liefde te vul.

Seëngroete van ROHSA