icon-newsletter

‘n Stiltetyd stoel 

 

My buurvroutjie sien al die speelgoed wat in haar sitkamer rondlê, en dan sien sy weer die rekening wat sy moet onthou om vandag te betaal. Dit terwyl sy eintlik gaan sit het om stiltetyd te hou. Dit is moeilik om te fokus en te konsentreer. Glo my, ek verstaan… dis nie net vir haar alleen ‘n uitdaging nie. Ek sukkel self om te fokus wanneer ek my stiltetyd wil begin. Kan jy glo, dat ek juis dan die drang kan kry vir huiswerk?

Wat my gehelp het is om ‘n plekkie in te rig weg van die dinge wat my aandag af lei. Ek het ‘n gemaklike stoel in die hoek van my kamer, waar ek nou my stiltetyd hou. Dis my afgesonderde plek van ontmoeting, net soos Moses se tent buite die kamp.

Wees eerlik met jouself, wanneer laas het jy ongehinderd by God se voete gesit? Kan ek jou aanmoedig om ‘n afgesonderde plekkie in jou huis te vind wat die beste sal wees vir jou ontmoeting met God. As dit nie vir jou moontlik is nie, kan jy dalk selfs in jou voertuig gaan sit, of soos daardie vrou in die storie wat binne in haar hangkas vir haar ‘n plekkie ingeruim het. Gaan getrou soontoe, sit by God, spandeer tyd met Sy Woord en in gebed. 

Markus 3:34 Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Seëngroete van ROHSA