icon-newsletter

My verantwoordelikheid

 

Hoeveel beinvloed ander se gedrag jou, watter effek het hulle optrede op jou? Dink jy dat jy anders sou wees as jy ander ouers gehad het? Is jy en jou broers ook nou so sarkasties en sinies soos wat jou ouers was? 

Een van die mees bevrydende waarhede wat ek al geleer het, is dat ek nie verantwoordelik is vir die optrede van ander nie – maar God hou my wel aanspreeklik vir die manier waarop ek reageer.

Jy het dalk geen keuse oor jou opvoeding of hoe ander jou behandel nie. Maar met God se genade kan jy kies om op ‘n goddelike manier te reageer.

In Esegiël se tyd was daar ‘n gesegde in die volksmond wat gesê het dat seuns vir hul vaders se sonde sou ly. Maar God het gesê: “Die mens wat sondig, sal sterwe. ‘n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ‘n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie. Wie leef volgens My wil, sal die vrugte daarvan pluk. Wie goddeloos is, sal die straf daarvoor dra.” (Esegiël 18:20).

Vra God om jou te help om verantwoordelikheid te neem vir jou eie dade, ten spyte daarvan wat ander mense om jou en teen jou doen.

Seëngroete van ROHSA