‘n Vrywilliger kom meld aan vir diens met hierdie woorde: “Ek bring jare se ondervinding en baie vaardighede vir die Here se werk. Sien, ek ken Grieks en ek is redelik bekend met Hebreeus. Ek het geleer hoe om behoorlike eksegese van ‘n teksvers te doen. Ek weet hoe mense dink, en kan die taal van vandag se mense praat. Ek kan ook help met die aanbidding want ek kan mooi sing en klavier speel…”
God kan beslis ons natuurlike gawes, talente en vermoëns gebruik. Maar al daardie wonderlike vermoëns waarborg nie bruikbaarheid nie. Hier is wat God wel vereis: Gebrokenheid.
Ons moet altyd op Hom staatmaak en nie op ons eie vermoëns nie. Moses het baie kontakte in die koninklike hof van Egipte gehad. Hy het ‘n hoë posisie, ‘n reputasie en talente gehad. Maar Moses het dit alles verloor, veertig jaar in die woestyn deurgebring en daar geleer om op God alleenlik te vertrou. Toe eers het hy nuttig geword vir Koninkryksdiens.
Jesaja 66:2 “Dit is die een wat Ek raaksien, die een wat nederig is en berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir My woord.”
Wil jy hê dat die krag van God deur jou moet vloei? Wil jy bruikbaar wees in Sy hande? Onthou dan: God gebruik mense wat gebroke voor Hom is.
Seëngroete van ROHSA