In Spreuke 31 lees ons van die karaktereienskappe van ‘n veelsyige en voortreflike vrou, daar is een spesifieke vers wat baie oortuigend is. Vers 26 ” As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde.” Sjoe, dit laat my dink – hoeveel keer spreek ek woorde wat nie wys of liefdevol is nie?
Wanneer ons met liefde vervul is, sien mense dit raak. ‘n Jong man het onlangs vir my vertel “Een van die wonderlikste dinge wat ons huwelik laat werk, is dat my vrou ‘n liefdevolle persoonlikheid het – wanneer sy praat, het sy ‘n gawe om met liefde in haar stem te praat.” Ek ken sy vroutjie, en ek weet dat haar gawe woorde nie makliker en meér natuurlik uit haar mond spring, as vir jou en vir my nie.
Maar die Gees van God laat ons gawe woorde in liefde spreek.
Sal ander mense jou beskryf as iemand met ‘n gawe vir woorde? Net soos daardie jong vroutjie, kan jy vriendelikheid en gawe woorde aanleer deur die krag van die Heilige Gees. Sal jy vir God vra om jou te help om gawe woorde met liefde en wysheid te gebruik?
Seëngroete van ROHSA