icon-newsletter

Wie is ek

 

Jesaja die profeet het gesien die meeste mense sondig geweldig. In die eerste vyf hooftukke van Jesaja preek hy vir die mense wat materialisties is, die wat van vroeg oggend af al agter drank aan loop en die wat seksueel immoreel is. Hy sê sommer baie reguit in hoofstuk 5:20 “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.”

Dan lees ons verder in hoofstuk 6 hoe Jesaja ‘n persoonlike ontmoeting met God gehad het. In die visioen het Jesaja die heiligheid en almag van God beleef, en dit het sy perspektief heeltemal verander.

Vers 5 Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

Toe Jesaja homself vergelyk het met die verdorwe mense rondom hom, het sy lewe vir hom redelik goed gelyk. Maar die suiwer lig van God se heiligheid, het sy hart se hoekies en gleufies vol sonde blootgelê. Wanneer laas het jy oor die heiligheid van God nagedink? Wanneer jy dit doen, sal jou hart ook in alle waarskynlik breek van berou oor jou eie sonde.

Seëngroete van ROHSA