Daar is so baie onderdrukkers en selfs tiranne in ons wêreld – dalk selfs in jou eie lewe. Daardie soort mense veroorsaak dat ons voel ons wil weghardloop en wegkruip. Dit is hoe Dawid, die skrywer van Psalm 11 gevoel het. “Hoekom sê julle ek moet na die berge vlug soos ‘n voël? Julle sê: Jy moet vlug, want kyk, die mense wat verkeerd doen, trek hulle boog se snare styf, …..hulle wil die eerlike mense skiet. “ Dan sê hy verder in vers 4 “Maar ek sê: Die Here is in Sy gewyde tempel, Hy is in die hemel waar Sy troon staan, en Hy sien die mense, Hy kyk wat hulle doen.” Die psalm vertel verder van God se oordeel.
Ek stem saam, dit is reg om te wil hê God moet intree en dit wat boos is oordeel. Maar as ons regtig eerlik is met onsself, verdien elkeen van ons God se oordeel. Ons het almal Jesus se redding nodig.
Indien jy die slagoffer is van iemand anders se onderdrukking, moenie weghardloop en wegkruip nie. Kry vir jou iemand wat jou met wysheid kan help, betrek selfs die owerhede as dit nodig is. Maar deur dit alles, hou jou oë op die Een wat op Sy hemelse troon sit. Hardloop na Jesus toe!
Seëngroete van ROHSA