icon-newsletter

Voorwaardelike liefde 

Het jy al met ‘n paartjie gesels en dieselfde storie gehoor uit twee baie verskillende perspektiewe. So kan ‘n vrou bv vertel dat sy en haar man lief is om alles saam te doen; terwyl haar man voel hy wil net bietjie spasie hê om ook sy eie ding te kan doen.
Begeerte in ‘n verhouding kan verskillende betekenisse hê. Daar is die ooglopende verduideliking wat ‘n seksuele ondertoon het. Maar daar is ’n ander meer subtiele vorm wat sê ek is lief vir jou, vir hoe jy my oor myself laat voel – jy bevredig ‘n sekere behoefte wat ek het. Eintlik is dit niks anders as voorwaardelike liefde nie.
Dit is die soort liefde wat net hou solank as wat die ander persoon jou ophef en ‘n leemte in jou hart vul. Die waarheid is ongelukkig dat die leemte in jou hart so groot is, dat niemand anders as God dit werklik kan vol maak nie.
Hoor net hierdie mooi seënwens in Effesiers 3 vanaf vers 16: “Ek bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.”
Wanneer ons liefde by God soek sal ons nooit teleurgestel word nie. Net Hy kan elke leemte in ons harte vol maak, en ons so met Sy liefde vervul sodat ons ook die vermoë sal hê om ander mense lief te hê – ongeag van wat hulle doen of nie doen nie. Dit is ware en onvoorwaardelike liefde.

Seëngroete van ROHSA