Die Woord van God roep ons op om ons lewens aan God oor te gee, maar soms is ons huiwerig, want ons is bekommerd oor wat ons dalk sal moet prysgee.
Mense stoei met gedagtes soos :
“As ek regtig doen wat God wil hê ek moet doen, gaan ek nie meer kan pret hê nie.”
“Ek sal myself aan God gee—solank ek nie hoef op te hou drink nie. Ja ek weet mense sê drank is my baas, maar elke diertjie het mos maar ‘n plesiertjie.”
Die probleem is dat die dinge waaraan ons wil vashou, nie ons diepste menswees kan bevredig nie. Dis kortstondig en oppervlakkig. Ons wil vry wees om te doen wat ons wil, maar soms bring dit nie vryheid nie, eerder ‘n las of verslawing.
Niks kan ons harte bevredig soos God self nie. Om aan Hom oor te gee, kan wel beteken dat ons sommige van daardie dinge moet opgee wat nie regtig bevredigend is nie. Maar is dit regtig so erg? Ervaar mens die volheid van vreugde daardeur?
Werk jy vir dinge wat nie regtig bevredig nie? Of vertrou jy God om jou die lewe se rykste plesier en vreugdes te gee?
Psalm 16:11 “U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie, U gee altyd vir u kinders die heel beste.
Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.”
Seëngroete van ROHSA