Selfs al is ons nog nie eens halfpad deur die jaar nie, is meeste mense gedaan en dood moeg. Selfs te moeg om te bid? In jou moegheid besluit jy dat jy eerder vanaand reguit bed toe gaan, jy gaan nie eens probeer om te bid en jou Bybel te lees nie. Maar een aand se slaap is nie genoeg nie, en dan doen jy dit die volgende aand weer…
Ek was self al daar, maar ek het besef om ‘n lewendige verhouding met God te hê, moet daar kommunikasie tussen God en my wees. Ek moét Sy stem kan hoor, veral wanneer ek oormoeg is. Wanneer jy moeg is wil God juis hê dat jy op Hom steun, jy kan Hom vra om jou die krag te gee om te bid en stiltetyd te hou.
Jesaja 40:28-29 “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Vers 31 “Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal nuwe krag kry. Hulle vlieg hoog, soos arende.”
Laat ons nie toelaat dat fisiese swakheid ons van ‘n hegte verhouding met die Here weerhou nie. Hy is die Een wat ons krag gee.
Seëngroete van ROHSA