Ons gaan verseker vandag voor keuses te staan kom. Ons kan verantwoordelikheid neem vir ons optrede, of ons kan verskonings maak vir ons gedrag. God stel vir ons ‘n paar riglyne in Romeine 12.
Eerstens in vers 10: “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” Al is jou huisie piepklein en beknop, is dit geen rede om jou kinders te verskree nie. Wanneer jou hormone jou ook hoe erg omkrap, “betoon eerbied teenoor mekaar”.
Vers11 en 12 ”Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed”…al is jou werk ook hoe stresvol. Selfs wanneer jy oormoeg is en sukkel om te funksioneer, is die Skrifgedeelte steeds God se standaard.
Vers 14: “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.” Al is dit jou eks wat nie einde kry, of jou eie ouers wat jou nog nooit kon bemoedig of ondersteun nie.
Jy kies self, jy kan verskonings maak vir jou dade of optrede, of jy kan staat maak op God se krag en Hom eerder gehoorsaam wees.
Hoe gaan jou keuses vandag lyk?
Seëngroete van ROHSA