Danielle is aangeneem toe sy 4 jaar oud was. Haar mamma is mal daaroor as mense vir haar sê:” Ek kan sien sy is jou dogter, sy lyk net soos jy!”
Het jy al agtergekom dat jy begin optree en lyk soos die mense met wie jy baie tyd spandeer? Ek dink as mens naby aan iemand is en so baie tyd saam het, dan reflekteer dit net op een of ander manier.
Aangesien ons soos die mense word met wie ons tyd spandeer, moet ons daardie mense baie versigtig kies. Ons kan ook nie met enigiemand meer invloedryk tyd spandeer as God self nie.
Moses het baie intense tye in die teenwoordigheid van God spandeer. Ons lees in Eksodus 34:29 “ Toe Moses van die berg Sinai afkom – die twee kliptafels met die Getuienis was in Moses se hand toe hy van die berg afkom – het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig stralend was omdat hy met God gepraat het nie.”
Die glorie van God het op Moses se gesig reflekteer. Dieselfde kan gebeur wanneer ons soveel tyd saam met God in gebed en in Sy Woord spandeer. Ons weet nie, dalk sal ons gesigte nie letterlik gloei nie, maar ons kan verseker God se glorie deur ons dade, ons woorde, en selfs ons voorkoms reflekteer.
In hierdie dae, moet die mense om ons dringend sien hoe God lyk. Wys ons dit vir hulle?
Seëngroete van ROHSA