Jy weet hoe swaar dit kan wees om iemand vir oulaas te moet groet, daardie heel laaste “koebaai”. Kan jy jou indink hoe Jesus se dissipels moes voel, terwyl hulle geweet het Hy maak gereed om die aarde te verlaat. Hulle vriend het nie net verhuis of geimmigreer nie, Hy was oppad na die ander kant van ewigheid toe.
Hulle het ook besef dat mense hulle sou haat, en hulle sou verwerp oor hulle geloof… daarom was hulle baie bekommerd dat hulle dit alles op hulle eie sou moes trotseer. Maar Jesus sê vir hulle in Johannes 14 vers 16 “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees” en in vers 27 “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”
Toe die Heilige Gees later oor die dissipels uitgestort is, is dit presies wat hulle beleef het. Tot vandag toe is die Heilige Gees met elkeen wat ‘n dissipel van Jesus is. Dit is waarom ons geen uitdaging of omstandigheid alleen hoef te trotseer nie.
Seëngroete van ROHSA