icon-newsletter

Toets dit met God 

Ons word konstant gevra om iets te doen of uitgedaag om iets aan te pak:
Ons het ouers nodig by die Kinderkerk, kan jy asseblief ‘n klassie vat?
Ons is baie opgewonde oor die koor wat ons wil begin, wil jy nie asseblief kom sing nie, ons het dringend alte nodig.
Ek en my man voel ons moet ‘n kursus doen, kan jy asseblief vir 6 weke elke Donderdagaand na ons kinders kyk?
Jy het jouself so goed bewys, die firma het ‘n wonderlike nuwe projek wat ons wil hê jy moet lei!
Of dalk word jy uitgedaag om ‘n pelgrimstog te gaan stap.

Die lysie genoem, is almal baie goeie aktiwiteite waaraan mens kan deelneem, maar dit beteken nie dat hulle almal God se prioriteite vir jou, in hierdie seisoen van jou lewe is nie.
Wanneer ons gevra word om iets te doen, weet jy hoe ons eintlik moet reageer? “Dankie, laat ek dit eers met die Here toets, en ek sal jou laat weet.”

Wanneer ek ’n besluit neem, maak ek dikwels aanspraak op die belofte van Spreuke 16 “n Mens kan planne maak oor wat hy wil doen, maar dit is die Here wat sê wat sal gebeur. ‘n Mens dink dat alles reg is wat hy doen,
maar die Here kyk of dit waarlik reg is. Jy moet vir die Here vra wat jy moet doen, dan sal jou planne slaag. ” (vers 1-3)

Vandag gaan gevul wees met baie wonderlike geleenthede, het jy tyd spandeer om vir God te vra wat Hy wil hê jy moet doen?

 

Seëngroete van ROHSA