Ek het tjello lesse geneem toe ek ‘n tiener was. Een van die eerste dinge wat ek ontdek het, was dat dit sinvol was om ‘n paar voorbereidings te tref voordat ek my musiekstuk kon begin inoefen.
Ek moes eers hars aan die strykstok se hare smeer, en die spanning regstel. Dan moes ek die tjello se hoogte stel, en dan het ek begin om elke snaar in te stem tot die regte toonhoogte. Hierdie voorbereiding het regtig ’n groot verskil gemaak aan die klank.
Net so maak voorbereiding ‘n groot verskil aan die kwaliteit van jou oggend se stiltetyd. My voorbereiding begin al die aand van te vore. Ek sorg dat ek vroeg genoeg in die bed kom, en dan help dit my ook om oor God te dink en oor Hom te mediteer terwyl ek aan die slaap raak.
Wanneer ek in die oggend wakker word, vra ek Hom om my te help om met Hom te kommunikeer. Net soos daar in Jesaja 50:4 staan Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister.
Wat kan jy in jou eie lewe doen om beter voor te berei vir jou stilword tyd saam met God?
Seëngroete van ROHSA