Ek het die volgende gebed begin bid nadat ek ‘n boek oor heiligheid gelees het:
O Here, wys my meer van U heiligheid.
Wys my meer van my eie sondigheid.
Help my om sonde te haat en om soos U, geregtigheid lief te hê.
En maak my heilig soos U heilig is.
God het daardie gebed beantwoord deur sonde in my hart vir my te begin blootstel – dinge soos om nie my tong te beheer nie, dinge waarvoor ek altyd lus was, my negatiewe ingesteldheid; en om vir myself liewer te wees as vir ander.
Hoe meer ons God se heiligheid sien, hoe meer sal ons berou hê oor ons sonde.
1 Korintiërs 15:34 sê “Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie.”
God het die vermoeë om ‘n nuwe liefde vir geregtigheid in ons harte te begin. Ek wil jou uitnooi om ‘n gebed soos hierdie vir die volgende 30 dae te bid. Vra God om jou ‘n dieper oortuiging te gee van wat sonde is en om vir jou meer van Sy heiligheid te wys.
Seëngroete van ROHSA