icon-newsletter

Skedules en prioriteite

 

‘n Vriendin van ons vertel my sy is gevra om te help om die kerk vir ‘n funksie te versier. Sy voel sy het nie eens haar eie huis in orde nie, hoe kan sy hulle nog met die kerk se dinge help?

Daar is deesdae so baie boeke, toeps op die fone en seminare beskikbaar om jou te help om tyd reg te bestuur. Die beste leiding kom egter steeds van God self. Ek het geleer om my kalender en daaglikse skedule aan God te onderwerp sodat ek kan leer wat Sy wil vir my lewe en my prioriteite is.

Wanneer onderbrekings kom, vra ek God vir wysheid om te weet of dit van Hom af kom, of moet ek die onderbreking vermy omdat dit ‘n onnodige afleiding is. Ek probeer dan Spreuke 16:3 onthou: “Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die Here, dan sal jou planne slaag.”

Daar sal waarskynlik nooit genoeg ure in ‘n dag wees om alles wat op jou te-doen-lysie is klaar te maak nie. Daar sal verseker nie genoeg tyd wees om alles te doen wat ander mense wil hê jy moet doen nie. Maar daar sal altyd genoeg tyd wees om alles wat op God se te-doen-lysie vir jou dag is klaar te kry. Wanneer laas het jy Hom betrek vir Sy leiding oor jou skedule?

Seëngroete van ROHSA