Ons almal ervaar pyn – fisies en emosioneel. Wat is die eerste ding wat jy doen wanneer jy pyn het? Sluk jy dadelik Grandpa-poeier met ‘n Red-bull af, of kla jy eers steen en been voordat jy tot 10 tel en diep asem haal om rustig te raak?
Niemand hou van pyn nie, maar dalk kan ons anders daaroor dink wat dit meer hanteerbaar sal maak. Het jy al beleef dat wanneer jy ander se pyn en swaarkry sien, jy anders voel oor jou eie situasie?
Jonathan Edwards se standpunt was: “Ek is vasbeslote dat wanneer ek pyn voel, om eerder te dink aan die pyn van martelaarskap en van die ewige hel.” Hy het geweet dat hy altyd pyn op hierdie aarde sou ervaar, maar hy wou hê dit moet hom tot dankbaarheid beweeg. Dankbaar dat hy nie die pyn van martelaarskap in die gesig gestaar het soos so baie voor hom nie. Dankbaar dat hy deur God se genade, die ondenkbare pyn van skeiding van God in die hel, kan ontsnap.
Dankbaarheid plaas dinge in perspektief. Geen pyn wat ons hier op aarde kan verduur, vergelyk met die ewige pyn waarvan God se kinders gespaar is nie.
Ons kan saam met koning Dawid se Psalm 18 getuig “In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my.” Vra God om jou te help om vandag in ‘n gees van dankbaarheid te leef, maak nie saak waardeur jy gaan nie.
Seëngroete van ROHSA