Ek onthou ‘n ervaring van baie jare gelede, wat ek nie maklik sal vergeet nie. Ek het by my vriendin oorgeslaap, maar in die middel van die nag het ek wakker geword van mense wat sing.
In die kamer langs myne was ‘n Nigeriese pastoor en sy vrou wat ook daar gekuier het. Met hulle tipiese swaar Nigeriese aksent, het hulle sonder om te skroom, daardie tyd van die nag, uit volle bors, die pragtige lied “How great though art” gesing.
Ek was deurmekaar van die slaap en het eers gewonder of ek engele hoor sing. Toe ek besef wie dit is wat so sing, het ek daaraan gedink hoe anders hierdie paartjie sing as die manier waarop so baie van ons in die kerk sing. Ons monde beweeg skaars wanneer ons sing, want ons hou eintlik net die musikante op die verhoog dop.
Ek dink David het uit sy hart gesing, net soos daardie Nigeriese egpaar, toe hy hierdie woorde geskryf het: “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.” (Ps. 103:1).
Vriende, laat ons nie net toeskouers wees nie. Kom ons gee ons siele die vryheid om ons stemme te vind in lofprysing.
Seëngroete van ROHSA