‘n Vriendin vertel dat hulle onlangs in ‘n sekuriteitsarea ingetrek het as gevolg van alles wat in die wêreld aangaan. Dis vir haar wonderlik, want daar is ‘n heining om die hele buurt en ‘n voltydse wag by die ingang.
Wanneer jy ‘n kind van God is, het jy meer beskerming as wat enige aardse heining kan bied.
Ek dink aan die storie van Elisa se dienskneg. Hy het gesien hoe die Siriese weermag die dorp waar hulle gewoon het omsingel. Hulle opdrag was om Elisa die volgende oggend gevange te neem. Maar die profeet was nie bevrees nie. Elisa het God gevra om sy dienskneg se oë te open. “Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”
Wanneer ons fokus op wêreldse dinge is, is dit maklik om deur vrees oorweldig te word. Maar as ons geestes oë oop is, sal ons besef dat engele ons omring. Ons hoef dus nie in vrees te leef nie, want niks kan naby ons kom sonder God se toestemming of Sy teenwoordigheid nie.
Seëngroete van ROHSA