Wanneer laas het jy in die straat geloop en oor ‘n groot hoop goud gestruikel? Dit werk net nie so nie, nê? Wanneer jy op soek is na goud, verg dit baie tyd en energie, ongeag op watter manier jy dit probeer delf.
Hierdie is ‘n beeld van ons benadering tot God se Woord. Hoeveel keer gee ons so ‘n vinnige kykie na ‘n paar verse in die Bybel, en hoop om gou-gou ‘n waarheid raak te sien? Dit gebeur net nie.
Koning Salomo het kosbare skatte van regoor die wêreld versamel. Hy het geweet wat dit behels om na mooi dinge te soek.
Dit is wat hy in Spreuke 2 geskryf het, vanaf vers 1: My seun, luister mooi na wat ek vir jou sê. Bewaar wat ek vir jou leer. Spits jou ore vir die wysheid. Span jou in om dit te verstaan. Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ’n versteekte skat. Dan sal jy weet wat dit beteken om respek te hê vir die Here. Jy sal leer om God te ken. Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig.
Volgende keer wanneer jy jou Bybel oopmaak, probeer om genoeg tyd daarin te spandeer om dieper te kan delf. Soek na die skat wat God vir jou daarin opgesluit het.
Seëngroete van ROHSA