icon-newsletter

Net hy en God 

 

Soms lei God ons die woestyn in sodat ons meer op Hom sal staatmaak.

Toe my pa by die ouetehuis ingetrek het, was dit vir hom soos ‘n woestyn. Hy het gevoel hy is afgesny van sy wêreld en sy eie mense. Sy hele lewe lank kon hy op sy goeie reputasie, sy geld en sy suksesse steun, en toe is alles eensklaps weg. Dit was net hy en God.

’n Vers in Deuteronomium sê: “Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here. (Hoofstuk 8:2-3). 

Ons steun nie altyd op God, totdat Hy al is wie ons het nie.

Ek het gesien hoe my pa op sy oudag leer om meer en meer van God afhanklik te wees, juis gedurende daardie laaste seisoen van sy lewe op aarde.

Wanneer jy in ‘n moeilike, droë tyd is, onthou dat dit ‘n geleentheid is om nederigheid aan te leer. Leef in totale afhanklikheid van God. Op die regte tyd sal Hy jou uit die woestyn uit lei.

Seëngroete van ROHSA