Toe my pa by die ouetehuis ingetrek het, was dit vir hom baie swaar gewees. Hy het ervaar dat hy van sy mense afgesny is. Boonop kon hy sy hele lewe lank op sy geld, sy sukses en reputasie steun. Maar toe is al daai steunpilare van hom skielik weg, dit was toe net hy en God oor.
Soms lei God ons die woestyn in sodat ons meer op Hom moet staatmaak.
Vers 2 in Deuteronomium 8 sê: “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. “
Wees maar eerlik, ons steun nie altyd op God totdat Hy al is wat ons het nie.
Ek het gesien hoe my pa op sy oudag leer om meer en meer van God afhanklik te wees, tydens daardie laaste seisoen van sy lewe voordat hy hemel toe is.
Indien jy in ‘n moeilike, droë seisoen is, onthou dat dit ‘n ideale geleentheid is om nederigheid aan te leer. Leef in totale afhanklikheid van God. Op die regte tyd sal Hy jou uit die woestyn uit lei.
Seëngroete van ROHSA