icon-newsletter

‘n Verskroeide aarde 

Daar is’ n vers van Psalm 68 wat menigmaal al tot my gespreek het. Vers 6: ‘n Vader vir vaderloses, ‘n regter vir weduwees, is God in sy heilige woonplek. God laat eensames weer in ‘n huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppiges woon in ‘n verskroeide land. ‘n Ander vertaling sê “maar die wat rebels is, bly in ’n geskroeide land.”

Soms bevind ons onsself in ‘n woestyn, as gevolg van ons eie rebelsheid. Ek onthou ‘n woestynseisoen in my eie lewe na die dood van ‘n goeie vriendin. Eers was daar die natuurlike rouproses, maar toe word ek kwaad en rebels omdat God hierdie persoon huis toe geneem het. Ek het nie Sy plan aanvaar nie.

Agtien maande lank het ek in ‘n woestyn, wat ek self geskep het, gewoon. Die deurbraak het uiteindelik gekom toe ek voor die Here gebuig en gesê het: “Ja, Here. Ek aanvaar U wil in hierdie saak, en ek dank U daarvoor.”
As jy in ’n woestyn is as gevolg van sekere keuses wat jy gemaak het, sal jy jouself in nederigheid onderwerp aan God ? Aanvaar God se goedheid en Sy doel.

Aanbid Hom. Op Sy tyd sal Hy jou uit die woestyn uit lei.

Seëngroete van ROHSA