In die 1930’s was daar ‘n groot herlewing in die Shantung-provinsie in China. Mense het getuig dat predikers nie eers hul preke kon voltooi nie omdat mense so oortuig was van hul sonde dat hulle in angs begin uitroep het.
Het jy al so iets in jou kerk sien gebeur? Wanneer laas het dit in ons land gebeur? Wanneer laas het ek en jy om God se genade uitgeroep? Oor die algemeen het ons nie ‘n diep en groot genoeg bewustheid van ons sonde nie. Daarom het ons nou so dringend ‘n herlewing nodig.
Wanneer ons God sien soos Hy werklik is, begin ons onsself sien vir wie ons werklik is. Met daardie oortuiging van sonde, kan daar ‘n uitroep van opregte belydenis wees. Lees asseblief Jesaja 58 waar Jesaja tot God roep en vra “Wys my volk op hulle oortredinge” In vers 9 belowe God om te antwoord as die volk na Hom roep – ‘’Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!”
Wil jy God vra om jou hart te laat herleef vir Hom? Bid dan “Here, laat my sien hoe heilig U werklik is. In die lig van U heiligheid, wys my al daardie donker verborge sondes, wat ek wegsteek in my hart.”
Seëngroete van ROHSA