As kind is ek geleer om “reg te lewe” en ek was betrokke by baie kerkaktiwiteite. Ek is baie dankbaar vir daardie gewoonte, maar daar is soms ‘n gevaar wat gepaard gaan met ‘n Christelike opvoeding. Dit is soms vir ons moeilik om ons sonde as werklik afskuwelik te sien. Wanneer ons nie die gewig van ons sonde voel nie, is dit moeilik om die geskenk van God se genade werklik te waardeer.
Ek is deesdae dankbaar vir die tye wat God my toelaat om die erns van my eie sonde te sien – dat sonde eintlik geestelike owerspel teenoor God is. Tye wanneer ek oorweldig word deur die bewuswording van wat dit Hom gekos het om my sonde te vergewe. Wat daarop volg kan ek probeer beskryf as ‘n oorweldigende gevoel van dankbaarheid en verwondering oor God se genade teenoor my.
Efesiërs 1:6-7 “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God.
Wanneer laas het jy oor jou eie sonde getreur… en gejubel oor Sy se genade vir jou?
Seëngroete van ROHSA