Soms werk God met ons oor sake wat dalk vir ons onbenullig en nietig lyk.
Ek het byvoorbeeld van ‘n vrou gehoor wat na ‘n winkel toe teruggegaan het en omverskoning gevra het dat sy nie dadelik eerlik was, toe sy besef het dat hulle haar te min laat betaal het nie. God was aktief besig met haar gewete, Hy het haar daarvan oortuig dat sy eintlik besig was om te steel. Die kassiere het gelag en vir haar gesê dat sy die sewende persoon daardie oggend was met dieselfde oortuiging – God was verseker besig om in Sy kinders se lewens te werk.
Kan jy jou indink wat sal gebeur as elkeen van ons wat Sondae in die kerk sit, op Maandagoggende uitgaan in die gemeenskap om dinge reg te maak? As ons werklik na God luister en verhoudinge herstel, sal ons die krag van die evangelie sigbaar maak.
2 Kor 8:21 “Ons is daarop bedag om eerbaar voor die Here op te tree, maar ook voor die mense.”
Is daar iets in jou lewe wat uitgesorteer moet word? Dalk dink jy: “ag dit was net ‘n klein bedraggie. Wat sal mense dink as ek nou iets daarvan maak?” Wel, hulle mag dalk net dink dat God eg is en lewendig is in jou lewe.
Seëngroete van ROHSA