As kind, het dr Margaret Nikol, al die Bybel bestudeer. Wel, eintlik het sy die een kosbare bladsytjie wat sy van ‘n Bybel in die hande kon kry, bestudeer (terwyl sy in kommunistiese Bulgarye grootgeword het).
Nadat sy uit haar land verban is, en in Amerika kon vestig, het sy ‘n boekwinkel besoek. Sy was so verbaas en oorbluf toe sy die enorme uitstalling van al die verskillende Bybels sien. Sy beskryf haar reaksie so: “Ek was so oorweldig, ek het net gehuil en gehuil en gehuil van blydskap.”
Margaret Nikol se verhaal herinner ons daaraan hoe kosbaar die geskenk van God se Woord werklik is.
Spreuke 27:7 sê: “ ‘n Persoon wat versadig is, vertrap ‘n heuningkoek, maar vir ‘n honger persoon is alles wat bitter is, soet.”
Daar is baie mense in die wêreld wat honger is vir die Woord van God, maar hulle kan nie of mag nie ‘n enkele eksemplaar in die hande kry nie. Volgende keer wanneer jy die voorreg het om jou eie Bybel te lees, onthou hoe ‘n ongelooflike skat dit is. Kom ons benader die Woord van God weer met honger harte.
Seëngroete van ROHSA