icon-newsletter

Lof bring Sy heerlikheid nader

 

“Loof die Here al wat lewe, wil Hom dank en hulde bring!” Hoekom sing ons hierdie woorde, hoekom moet ons die Here loof? 

Toe koning Salomo die tempel ingewei het, was daar ‘n massa koor wat saam met die priesters se 120 trompette en ander instrumente die Here geloof het.

2 Kronieke 5:13 …die trompetblasers en die sangers het soos een man ingeval om die Here met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die Here begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die Here, gevul met ‘n wolk.

Net soos God se heerlikheid Salomo se tempel gevul het, kan Hy ons ook vul. Ons  kom in verbinding met Hom, net soos die Israeliete, deur lofprysing.

As jou geestelike lewe dor en droog voel – asof jou tempel nie veel heerlikheid vertoon nie – fokus daarop om God te loof. Jy hoef nie ‘n groot koor of 120 trompette te hê nie, maar jy het ‘n hart nodig wat Hom wil loof. Ware lof bring ons in die teenwoordigheid van God en dan bring Hy Sy heerlikheid tot op ons vlak.

Seëngroete van ROHSA