Ek hou ‘n kollega van my dop, die mense by die werk loer graag by haar in om hulle probleme met haar te bespreek. Haar reaksie is net “my gebedslys groei aanmekaar!”
Iemand anders vertel sy moet haar dogter help met verhouding advies en ter selfde tyd haar kleuter se baie vrae beantwoord, waar moet sy self advies kry?
Ons moet na dieselfde bron gaan as waarheen Jesus gegaan het – na God se teenwoordigheid toe.
Lukas vertel ons, “Maar Hy het Homselt altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid.” Markus sê “Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg opgegaan om te bid”, en “Waar Hy ookal in die dorpe en stede of op die plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van Sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.”
Jesus het Sy krag om ander te bedien gekry deur tyd in God die Vader se teenwoordigheid deur te bring. Elke keer as Hy homself vir ‘n tydperk afgesonder het om te bid, het ‘n skare mense daarna om Hom saamgetrek. Hulle het iets gesien waaraan hulle wou deel gehad het.
Die mense om jou het hulp nodig. Om aan hulle behoeftes aandag te kan gee, moet jy ook eers tyd saam met God spandeer.
Seëngroete van ROHSA