Ek het ‘n vriendinnetjie Marcia, sy het groot word in ‘n huis waar sy baie seerkry ervaar het a.g.v haar pa se drank probleem. Toe sy haar lewe vir God gegee het, het sy begin besef dat sy nie so onskuldig was soos wat sy altyd geglo het nie. Sy het besef dat sy ook gesondig het in haar reaksie op haar pa se slegte keuses. Hulle het toe wêrelde verwyderd geleef, maar sy het tog gevoel sy moes vir haar pa ‘n brief skryf en vergifnis vra vir dit wat sy teenoor hom verkeerd gedoen het.
Baie lank daarna het hulle wel bymekaar uitgekom. Die eerste ding wat sy by haar pa wou uitvind was of hy die brief ontvang het. Hy het haar vertel dat hy wel die brief ontvang, maar hy het gevoel dat dit hy was wat haar vergifnis nodig gehad het, nie anders om nie. Maar sy het daarop aangedring, dat hy haar asseblief moes vergewe vir wat sy, in reaksie op haar eie seerkry, aan hom gedoen het. Sy het haar pa gerus gestel dat sy hom reeds vergewe het, en dat God hom ook wou vergewe as hy vir God sou toelaat in sy lewe.
Dit het nie Marcia lank geneem om die vrug te sien van haar keuse om haar pa te vergewe nie. Haar pa het haar vergewe soos sy gevra het, maar wat haar die blyste gemaak het was dat hy ook besluit het om sy lewe vir Jesus Christus te gee.
Dalk is daar iemand in jou eie lewe wie jy nie gedink het, jou vir iets hoef te vergewe nie, maar die Heilige Gees herinner jou nou aan daardie persoon. God kan ‘n wonderlike plan hê met jou gehoorsaamheid!
Seëngroete van ROHSA