icon-newsletter

Heilige harte

 

Jy het seker al vir jou kinders verduidelik hoe om hulle hande te was. Jy gebruik seep en dan vryf jy jou hande teen mekaar tot daar skuim is. In die grendeltyd veral het ons almal weer mooi geleer hoe om hande te was.

Dit is ‘n ma se verantwoordelikheid om haar kinders te leer. In Jesus se tyd het die geestelike leiers n hele stel reëls gehad oor hoe jy jou hande moes was. Hulle het selfs gesê hoeveel water jy moes gebruik en hoe jy dit oor jou hande moes gooi. Die probleem was dat hulle hierdie reëls nagevolg het asof dit God se Wet was.

Een van hierdie leiers het eendag vir Jesus gevra waarom sy dissipels nie hulle hande op die regte manier was nie. Jesus het hulle met Jesaja se woorde geantwoord: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle harte is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien, deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. “

Hierdie leiers het godsdienstig ekstra reëls nagevolg, maar hulle het nie werklik vir God met hulle harte lief gehad nie. Doen jy dinge net sodat ander mense dit moet raaksien? Of gaan heiligheid tot in die diepste dele van jou hart?

Seëngroete van ROHSA