Maak jy jouself vinnig uit die voete, wanneer jy ‘n versoeking raaksien? Ons praat van daardie ongevraagde advertensies wat so uit die bloute tydens ‘n video verskyn. Selfs tydens sport uitsendings kan jy nie glo hoe gewaagd en blatant satan te werk gaan nie.
Wanneer wyse mense voor versoekings te staan kom, staan hulle nie rond en wonder wat om te doen nie, hulle gee so vinnig as moontlik pad.
Daardie speletjie op jou foon, kan jy dit net daar stop en iets anders gaan doen? Of wag jy maar dat die advertensie se paar sekondes verby rol, en jy kan aangaan met die speletjie?
Wanneer versoekings kom, moet ons doen wat Josef gedoen het toe sy baas se vrou hom probeer verlei het. Genesis 39:10-12
“Sy het dag na dag druk op hom uitgeoefen, maar hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie. Hy het selfs so ver moontlik uit haar pad probeer bly. Eendag was hy besig om sy werk te doen terwyl daar niemand anders in die huis was nie. Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: ’Kom slaap by my!’ Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom gegryp het, agtergelaat en uit die huis gehardloop.”
Hy het gevlug en uit die huis gekom. Hy het geweier om hom aan sonde toe te gee, selfs nie eens vir ‘n oomblik nie. Volgende keer, wanneer ‘n versoeking voor jou oë verskyn, onthou Josef en kom so vinnig as moontlik weg.
Seëngroete van ROHSA