icon-newsletter

Goddelike onderbrekings 

Jy het lekker vroeg opgestaan, vandag is die dag wat jy by jou voorneme gaan hou! Vandag gaan konsentreer.
Jou stiltetyd hoekie is mooi ingerig, jou Bybel en gebedsjoernaal lê reg, selfs jou pen is nog op sy plek. Jy begin lees Markus 1, jy lees te lekker, jou voorneme hou, jy vorder mooi… vers 35: “Jesus het opgestaan, die huis verlaat en na ‘n eensame plek gegaan.”

(Ping) Die droër is klaar, jy dink dit kan wag. Jy lees verder . . . “Simon en sy metgeselle het hom gaan soek, en toe hulle hom kry, het hulle uitgeroep: “Almal soek U!”

En dan lui jou foon “Ag tog, ek was seker ek het hom afgesit, maar miskien is dit ‘n noodgeval. Nee, hou aan lees”. Jesus het geantwoord: “Kom ons gaan iewers anders na die nabygeleë dorpies sodat ek . . .“Mamma, wat doen jy?”

Ja, jy dink reg, soms moet ons God vra om ons weg te steek van afleidings tydens ons stiltetyd. Maar soms kan ‘n onderbreking deur God gestuur wees. Alle onderbrekings is nie noodwendig negatief nie. Hierdie is ‘n geleentheid wat jy kan benut. “Kom kyk laat ek jou wys wat ek hier in my Bybel lees”.

Vra God vir onderskeidingsvermoë. Soms is ‘n onderbreking eintlik ‘n geleentheid van Hom af. ‘n Geleentheid om Sy koninkryk uit te brei.

 

Seëngroete van ROHSA