icon-newsletter

Geen verskonings

Dink vir ‘n oomblik aan die eerste sonde. Eva het regtig geen verskoning gehad nie. Sy kon nie haar opvoeding blameer soos so baie van ons doen nie. Deesdae sê baie dat hul ma nie ‘n teenwoordige ma was nie, en dit is waarom hulle nou hul kinders so moeilik hanteer.

Dit het nie vir Eva gewerk om haar man te blameer nie. Hoe dikwels hoor ons nie dat vrouens kla hulle mans breek hulle af, en daarom reageer hulle met woede.

Eva kon nie haar omgewing blameer nie. Het jy al die verskoning gebruik dat jy gestres by die huis kom en daarom jou frustrasies op jou familie uithaal?

Daar was geen eksterne faktore wat Eva beinvloed het om voor versoeking te swig nie. Sy het nie finansiële probleme gehad nie, geen onkruid om uit te trek nie, sy het selfs nie eers probleme met skoonouers gehad nie. Haar probleme het by haarself begin. Sy het die keuse gemaak.

Die feit is ons kan eintlik ook nie verskonings maak vir ons sonde nie. Soos Eva is ons ook verantwoordelik vir ons keuses. Jakobus vertel in hoofstuk 1:14 “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep”.

Soek jy verskonings vir sonde? Indien wel, neem verantwoordelikheid en erken jou sonde en vertrou die bloed van Christus vir vergifnis van jou sonde.

Seëngroete van ROHSA