Dit wil voorkom of die kerk baie klem lê op vryheid, liefde en aanbidding, en dit is reg so. Maar ons moet ook onthou dat God prosesse in plek gestel het, en daar is nie kortpaaie nie.
Ware aanbidding begin met gebrokenheid en nederigheid oor die sonde in ons lewens. Om oor ons verkeerde dade of sonde te treur lei tot bekering, verootmoediging en dan ontvang ons vergifnis. Dit produseer geloofs vryheid van skuld en slawerny. Die vryheid bied weer aan ons ‘n groter kapasiteit vir liefde en ook intieme aanbidding.
“Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.” (Psalm 51:19)
Natuurlik kan ware liefde en aanbidding ons ook weer na ‘n dieper vlak van gebrokenheid en berou lei.
Daar is absoluut niks daarmee verkeerd om na aanbiddingsmusiek te luister nie. Maar onthou dat ons nie ware vryheid, liefde, en aanbidding kan ervaar as ons dit nie deur die weg van nederighied, berou en vergifnis bekom het nie.
Seëngroete van ROHSA