Kan jy ook, sonder dat iemand dit verklap, sien wanneer jou kinders iets verkeerd gedoen het? Hulle vermy mos dan oogkontak. Ek hou hulle gesiggie dan vas en sê: “Kyk in Mamma se oë!” Wanneer ‘n kind ongehoorsaam is, weet hulle dat die gemeenskap m.a.w. die eenheid, samehorigheid en vertroulikheid tussen julle, verbreek is.
Dit is dieselfde in ons verhouding met God. Een rede waarom ons konsekwent tyd met Hom in Sy Woord en in gebed nodig het, is om te kan herken en erken wanneer daar ‘n breuk in ons verhouding is. Sodat ons kan omdraai en weer terug kan kom in God se teenwoordigheid.
Ons kan daarom saam met Dawid in Psalm 51 bid: “Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid.”
Kan jy vandag in jou Vader se oë kyk? Of het iets tussen jou en Hom gekom? Kan ek jou aanmoedig om vandag intieme tyd in Sy Woord en in gebed deur te bring. Soos Dawid in vers 12-14 sê: “Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees. Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie. Gee my tog weer die vreugde van u redding en maak my gewillig om U te gehoorsaam.”
Seëngroete van ROHSA