icon-newsletter

El Shaddai

 

’n Pasgebore babatjie kan so maklik onseker en ontsteld wees. Wanneer hulle so ontroosbaar is, voel dit of niemand kan help nie. Maar wanneer die mamma haar babatjie optel en begin voed, is alles gou-gou weer reg.

Dit is die manier waarop God met ons wil omgaan. Een van die karakter name van God is El Shaddai. Dit word gewoonlik met “God Almagtig” vertaal, maar daar is meer agter hierdie karakter naam as wat deur direkte vertalings weergegee kan word.

In Genesis 17:1 sê God aan Abram: “Ek is El-Shaddai (Die Magtige God wat meer as genoeg is); leef goed in My Teenwoordigheid en wees sonder vlek.”

El of Elohim praat van God se mag en krag. Daarteenoor is die woord Shaddai ‘n beskrywing van teerheid, voeding en versorging.

Die naam El Shaddai sê vir ons dat God die bron van krag en vertroosting is. Wat het jy vandag nodig? In plaas daarvan om rond te kyk vir ‘n oplossing of na binne te soek vir jou eie krag, kyk na El Shaddai vir alles wat jy nodig het.

Seëngroete van ROHSA