Hier is ‘n paar vrae wat ons kan gebruik om te evalueer of ons werklik eerlik is met onsself.
Is daar waarhede in God se Woord wat ons vir ander preek maar nie op onsself toepas nie. Byvoorbeeld, vermaan jy iemand dat dronkenskap ‘n vorm van afgodery is, want jy is afhanklik van iets anders as God… maar jy vergeet jy het self vanoggend erken dat jy nie behoorlik kan funksioneer sonder koffie nie?
Ignoreer ons die Heilige Gees of God se Woord wanneer ons van sonde aangekla word? Jy loop Sondag oggend na diens en dink, die predikant het vanoggend net met jou gepraat. Maar in plaas daarvan om tyd met God te spandeer om jou foute uit te sorteer, kies jy om eerder gou planne te maak vir middagete saam met vriende.
Het jy dalk ‘n te groot siening van jou talente en jou waarde vir God en ander om jou? Jy dink dalk jy kan weereens nie met vakansie gaan terwyl ‘n funksie gereël moet word nie, want niemand sal dit so goed soos jy kan doen nie.
In Galasiërs 6:3 lees ons: “As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself.”
Om weg te draai van misleiding en met onsself eerlik te wees, is een van die groot stappe tot ’n persoonlike geestelike herlewing.
Seëngroete van ROHSA