In Junie 2017 was die Knysna/Plett brande, een van die ergste tragedies wat ons land nog beleef het. 5000 mense is uit die gebied uit ontruim. 7 mense het hulle lewens verloor, en 700 huise is verwoes in die brand. Tussen 20 en 30 brande het tegelykertyd in die area gewoed, en omtrent 15 duisend hektaar afgebrand. Hoeveel diere en natuurlewe het nie ook in die slag gebly nie? Blykbaar het dit alles begin by ‘n kampvuurtjie van dennebolle.
Brandweer manne sal vir jou vertel dat iets in jou binneste gebeur, wanneer jy agter kom daar is mense besig om te sterf in die brand. Dit verander jou perspektief, die vuur verander dan in ‘n dodelike monster wat jy moet beveg.
Dalk moet ons ook ons perspektief oor sonde verander. Ons het almal al beleef hoe sonde soos misdaad ‘n lewe kan verwoes. Selfs sogenaamde klein sondetjies of wit leuentjies is net so dodelik. Dink maar aan jaloesie, woede, self bejammering, stress en vraatsug.
In Jakobus 1:15 lees ons: Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Die vraag is: Is daar ‘n vonkie van sonde in jou hart, wat letterlik jou lewe met die ewige dood bedreig?
Seëngroete van ROHSA