As ek in die tuin van Eden was, sou ek verseker met geen slang geselsies aangeknoop het nie. Vir een ding, ek haat slange! Daarby ‘n slang wat kon praat, sou ek blits vinnig myself uit die voete gemaak het! Ja, dis net ‘n grappie.
Versoeking kom in baie vorme voor, maar dit is gewoonlik nie deur slange wat praat nie. Vversoeking kom dalk na ons in die vorm van ‘n topverkoper boek of fliek, dalk ‘n gewilde tydskrif . Versoeking kan kom vanaf ‘n familielid of vriend wat advies bied, ‘n terapeut of ‘n boodskap op sosiale media.
Maar wanneer ons inspraak ontvang wat nie ooreenstem met die Woord van God nie, moet ons besef dat satan ons probeer mislei en vernietig. Daarom moet ons weet wat die Bybel sê.
Hier is ‘n goeie herinnering vir vandag: 1 Petrus 5: 8-9 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.
Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee.
Seëngroete van ROHSA