icon-newsletter

Die prysetiket

 

Wanneer jy in die winkels is, en jou oog daardie mooi bloes vang, wat is die eerste ding wat jy doen nadat jy daardie hanger van die rak afgehaal het? Jy soek outomaties die prysetiket om te sien wat daardie bloesie kos.

Sê nou net verleiding het op dieselfde prinsiep of beginsel gewerk? Dan sou jy mos van die begin af geweet het wat die prys is wat jy daarvoor gaan betaal… 

Dink net, as daardie verbode vrug vrot en vol wurms was, sou Eva haar hand dan steeds daarvoor uitgesteek het? Genesis 3:6 “Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet.”

Sy het op die ingewing van die oomblik toegegee aan die versoeking, sonder om die koste te bereken.

Jy gaan vandag baie besluite moet neem, groot en klein. Vra God om jou onderskeidingsvermoeë te gee, Hy kan jou help om die prys van sonde te besef. 

Jakobus 4:7 Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom.

Seëngroete van ROHSA