icon-newsletter

Die koningin van Skeba

 

Drie duisend jaar gelede het ‘n Arabiese koningin gehoor van ‘n baie wyse en bekwame man. Sy was nie tevrede om net van hierdie man te hoor nie. Sy het haar paleis opdrag gegee, en ‘n hele karavaan gelaai met seldsame geskenke, onder andere meer as 4 ton goud. So het sy 1200 myl gereis om hom te gaan ontmoet.

Nadat sy hierdie wyse koning gepeper het met al haar vrae en sy wyse antwoorde gehoor het, vertel die Bybel vir ons dat die koningin van Skeba oorstelp was in haar bewondering. “Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom en myself oortuig het. Nou weet ek dat nie eers die helfte vir my vertel is oor u groot wysheid nie. U het alles wat ek gehoor het, ver oortref. “

Die Bybel sê vir ons in 2 Kronieke 9:12 “Vir die koningin van Skeba het koning Salomo alles gegee wat sy begeer en gevra het, meer selfs as wat sy vir die koning gebring het. Sy is toe terug na haar land toe, sy en haar gevolg.”

Ek en jy het die kans om ‘n ongelooflik wyse Koning te ontmoet. Ons kan dit doen deur die Woord van God te bestudeer. Wanneer ons die Koning van konings se wyshede ontdek, kan ons terug gaan na ons huise, ons werk en ons woonbuurte met ‘n groter skat as wat ons harte ooit kan hanteer.

Het jy al wysheid by die Koning van die konings ontdek?

Seëngroete van ROHSA