Daar is ‘n verhaal van ‘n ou prediker wat weereens deur die nag gewerk het aan ‘n preek vir sy piep klein gemeentetjie. Sy vrou het laat die aand vir hom gevra waarom hy soveel tyd spandeer aan ‘n preek wat so min mense sou hoor. Hy het geantwoord: “My skat, jy vergeet hoe groot my gehoor gaan wees.”
Daardie prediker het die werklikheid verstaan van wat Hebreërs beskryf as ’n “groot wolk van getuies”. Hulle is in ‘n soort hemelse hoof paviljoen bymekaar, en hulle kyk hoe ons ons wedloop op aarde hardloop. Niks hier op aarde is klein en nietig as die hemel toekyk nie.”
Miskien lyk dit vir jou asof niemand die klein dingetjies raaksien wat jy elke dag vir jou mense doen nie. Onthou, die hemelse toeskouers kyk. Miskien wil dit voorkom asof niemand agterkom wanneer jy weier om kortpaadjies te vat nie. En wanneer dit lyk asof niemand weet wanneer jy nee sê vir versoeking nie, onthou die Here sien.
Hebreërs 12:1 “Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.”
Seëngroete van ROHSA