Deesdae hoor ‘n mens gereeld hoe geestelike leiers sê dat indien jy ‘n verhouding met God het, jy gesond sal wees, jy genoeg geld sal hê, jou man mal sal wees oor jou, en in jou geeslewe nooit eensame onvervulde tye sal wees nie.
Maar kyk mens na Jesus se lewe, dan sê Markus se evangelie vir ons: “Die Gees het hom die woestyn ingedryf.” Jesus het nie gesondig nie, Sy Vader het nou net ‘n seëning oor Hom uitgespreek en Hy was vol van die Heilige Gees. Tog het Hy veertig baie ongemaklike, eensame dae in die woestyn in die gesig gestaar waar satan Hom boonop kort kort probeer versoek het.
Soms bevind ons onsself in ‘n woestyn as gevolg van ons eie sonde, maar dit is nie altyd die geval nie. Soos Jesus kan ons ‘n droë, moeilike tyd betree sodat God se perfekte doel en goeie voornemens vervul kan word.
Moenie moedeloos word nie. Al lyk Hy dalk ‘n miljoen kilometer weg, God is by jou. Volgende keer wanneer jy ‘n woestyntyd ervaar, bly volg net die voetspore van ons Verlosser.
Seëngroete van ROHSA