icon-newsletter

Derde straat

 

Ek het eenkeer die storie gehoor van ‘n diaken wat in ‘n klein dorpie gewoon het en jare lank geweier het om in Derde straat af te ry. Hy was kwaad vir ‘n man wat in daardie straat gewoon het, oor ‘n kerkskeuring wat tien jaar tevore plaasgevind het.

Die gemeente het toe ‘n spesiale reeks herlewingsdienste aangebied, dit was wonderlik want God se teenwoordigheid was baie tasbaar. Onder die leiding van God se Gees, het die leierskap besef dat hulle destyds met die kerkskeuring dinge  verkeerd hanteer het. ‘n Groep van ongeveer veertig mense uit hulle gemeente, het toe diegene wat weggebreek het gaan besoek. 

Ek is seker jy het ‘n sterk vermoede waarheen daardie diaken gegaan het. Nadat God hom kon bevry van daardie jarelange bitterheid is hy reguit Derde straat toe. In opregte nederigheid kon hy sê: “Ons het teen julle gesondig, sal jy ons asseblief vergewe?”

Is daar iemand met wie jy weier om te praat as gevolg van een of ander kwessie uit die verlede? Doen wat hierdie man gedoen het: Wees jy die nederige een en vra vergifnis vir jou aandeel daarin. Kolossense 3:12 sê “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.”

Seëngroete van ROHSA