icon-newsletter

Boekhou van die kwaad

 

Ek het al met mense gesels, wat my vertel dat hulle iemand vergewe het; maar in dieselfde asem ryg hulle ‘n lang lys van oortredinge uit. Hulle dink dalk dat hulle die persoon vergewe het, maar hulle hou in der waarheid steeds boek van die kwaad. Dan het hulle mos nie regtig die ander persoon se skuld af geskryf nie? 

Ons word geroep om te vergewe soos God ons vergewe het. Paulus sê in Kolossense 2:13-14 ”Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het.”

In Paulus se tyd kon iemand ‘n sertifikaat uit skryf vir alles wat jy hulle geskuld het. Paulus sê dat die rekord van skuld wat ons aan God verskuldig is, aan die kruis van Christus vas gespyker is en vir ewig gekanselleer is. 

Dit is die manier waarop ons ook geroep word om ander, en soms onsself ook,  te vergewe. Hou jy ‘n lysie in jou agterkop van sondes wat ander mense teenoor jou gepleeg het? Is dit nie nou tyd dat jy die skuldbrief op skeur en regtig vergewe nie?

Seëngroete van ROHSA